Liewe Dr Jan is meer gepas.
Met soveel dankbaarheid in my hart, kan ek nie so formeel wees nie.Op 21 Juile 2009 het ek my tweede heupvervanging in 13 maande gehad, met dié verskil en ligpunt dat dit op die nuwe AIMS-metode gedoen moet word. En wat ‘n wonderlike, ongelooflike verskil nadat ek reeds op die ou, tradisionele manier geopereer is. Ek wil sommer so in tabelvorm vir dokter vertel van my eie ondervinding:
DAG VAN OPERASIE:
AMIS: 1ste op die teaterlys. Word wakker in herstelkamer, gaan na hoë sorg en waai oppad vir my man en dogter. Voel baie goed ten spyte van die drip, dreinering en kateter.
TRADISIONEEL: 1ste op teaterlys. Lê met drip in die nek waaraan morfien gekoppel is, dreinering en kateter. En sien skaars my man en dogter. Word eers in hoë sorg wakker. Moet ook later suurstof kry.
DAG 1:
AMIS: Word voor 8 vm oorgeplaas na ortopediese afdeling. Sit dadelik regop in stoel, word duiselig en moet terug bed toe.
TRADISIONEEL:Nog in hoë sorg, gekoppel aan suurstof en slaap die pyn weg deur myself kort kort met morfien te spuit (Koppel pompie direk aan drip). Word die aand ongeveer 7 nm oorgeplaas na die ortopediese afdeling. Benodig die bed dringend na ‘n ongeluk.
DAG 2:
AMIS: Drip, dreinering en kateter word verwyder. Begin met krukke loop en gaan selfs die aand alleen stort.
TRADISIONEEL: Lê nogsteeds op my rug, spuit morfien en slaap meeste van die tyd.
DAG 3:
AMIS: Loop met krukke tot by die trappe (eksamen), klim op en af. Loop met een kruk terug saal toe en word ontslaan! Huis toe!!
TRADISIONEEL: Drip, dreinering en kateter word verwyder. Sit vir die eerste keer regop op ‘n stoel, word duiselig en terug bed toe.
DAG 4:
AMIS: TUIS!
TRADISIONEEL: Probeer vir die eerste keer loop met loopraam. Vorder tot by voetent van die bed en word duiselig en terug bed toe.
DAG 5:
TRADISIONEEL: Kan darem verder loop met die loopraam en kan darem nou alleen badkamer toe.
DAG 6:
TRADISIONEEL: Begin met albei krukke loop en begin my menswaardigheid terugkry. Moet nog elke keer iemand kry om my been op die bed te lig.
DAG 7:
TRADISIONEEL: Loop met albei krukke, klim trappe en word ontslaan. Huis toe!
Dit is maar ‘n kort opsomming van die verskil tussen die twee tegnieke. Ek kan maar net weer beklemtoon dat die AIMS-metode nie eers vergelyk kan word met die ou metode nie. Ek voel net spyt en half kwaad dat ek nie voorheen daarvan geweet het nie. Nou, 7 dae na die operasie is ek heeltemal onafhanklik, loop rond met een kruk en selfs klein entjies daarsonder.
Met die ou manier het ek ‘n volle 6 weke met 2 krukke geloop, vir 3 weke moes iemand my been op die bed lig omdat die spiere nog nie sterk genoeg was nie, baie fisioterapie ontvang en 3 maande later eers weer motor bestuur.
Weereens baie dankie!
Groete,
Danien Pelser