Beste Dr Jan
Baie dankie vir die aanstuur van post-operatiewe x-traal foto van my R-heupvervanging – 19/06/2013. U moeite en tyd word waardeer. Dit gaan baie goed met die aansterkproses en ek het reeds meeste van my gewone reikwydte herwin tydens beweging en stap, slaap en bestuur my motor met groot gemak. Huiswerk, wasgoed en ander gewone takies in en om die huis raak elke dag beter.
Die wond lyk gesond en heel goed. Trappeklim was nog nooit ‘n probleem nie alhoewel ek steeds elke tree baie versigtig benader ek stap oral binnehuis rond sedert 3 weke na die operasie sonder ondersteuning. Ek reik gemaklik tot by my voet en as ek die been hoog optrek en dan die onderste gedeelte na binne draai. Ek bestuur my eie handrat motor vanaf 4 weke met gemak en dra ligte pakkies self rond.
Buitenshuis voel ek veiliger met ligte steun op een kruk wanneer ek vinniger wil beweeg op ongelyke terrein. Wanneer ek vir geruime tydperke moet sit of lê, ondervind ek dat die heupgewrig effe swak en styf reageer met die opstaan en dan onder my volle gewig swik. Sodra ek eers op ‘spoed’ kom, stap ek heel normaal sonder ‘n mank beweging.
Ek draai met gemak om op die bed en slaap op albei sye asook op my maag met ‘n kussing gestut tussen die die knieë en onder die heupe onderskeidenlik. Die wit kouse het erg irriteerend teen my vel begin raak en die dra daarvan is gestaak dieselfde dag van die laaste tablet vir bloedverdunning.
Ek doen getrou elek dag die voorgeskrewe oefeninge soos deur die fisio aanbeveel, asook ander spierversterkende en soepelheids oefeninge, een van die mooi dae dans ek weer dat die boere skaamkry. Golf moet eers bietjie wag totdat ek sterker verder ente kan stap en die sak kan agternatrek. Tans nog besig om altwee oë se katarakke te laat verwyder.
Ek is u ewig dankbaar vit u toegewydheid, die vertroue wat u dadelik ingeboesem het, die vriendelikheid, gemak waarmee u al my vrae en onsekerheid hanteer het en die professionele wyse waarop u die operasie so suksesvol afgehandel het. U het my laat voel asof u die hele dag tyd het om net aan my probleem te wy. U is voorwaar ‘n besondere mens – Mens wat opreg omgee vir u pasiënte en dan daardie ekstra myl saamstap. DANKIE!
Ek tree einde van September 2013 af en roep die onderwys wêreld vaarwel toe. Ek beplan om iewers ‘n geskikte en meer bekostigbare blyplekkie iewers langs die Kaapse kuslyn te vind. Oktobermaand wil ek weer Kaap toe reis om my verkenningstog voort te sit en kan reël vir ‘n opvolg afspraak om uweer te besoek vir verdere X-strale indien u dit sou nodig vind.
Weereens baie dankie vir die voorreg op ‘n nuwe heupgewrig en beweging sonder pyn of ongemak vorentoe. Ek wens u net die beste toe in die toekoms en besing u lof sovêr ek beweeg as die “Heup-Ghoeroe van SA”.
Vriendelike groete.
Drinette de Klerk